Saturday 17 December 2011

Saterdagoggend 17 Desember 2011: Weimar

Tweede laaste dag. Hoop net die weer is beter die laaste twee dae as gister. Gister was een van daardie tipiese Desember stormdae. Ek onthou ons eerste winter in Holland in 1982, toe daar twee keer sulke storms was in Desember en ons oor die radio en TV gehoor het hoe word die dykwagters opgeroep vir diens en hoe benoud ons was! Nou was die storm net erg genoeg om rondloop baie moeilik te maak.
Maar rondgeloop het ek wel. Gewag, maar half elf gesien dit gaan nie ophou reën nie en toe maar my sambreel gevat ... die probleem is dat hy later nie meer waterdig is nie. En alhoewel ek maak of my groen jas ‘n reënjas is, is dit natuurlik nie. Berg-op na Wartburg en wens ek kon meer sien. Daar is dele waar jy van bo net bosse sien sover as wat jy kan kyk. Dis te danke aan die feit dat dit in die voormalige Oos Duitsland lê en daar vir lank nie regtig ontwikkeling hier was nie.
Wartburg was heel interessant (sal later meer volledig skryf) as ou kasteel maar ook omdat dit die plek is waar Luther “gevange” gehou is en die Bybel in Duits vertaal het. Heerlik geëet (vergeet om die resep te vra, Christiaan): dis ‘n sampioensop met groot stukke sampioen en in die midddel is daar so ‘n ronde hopie aartappelmengsel – die verkeerde woord, maar dis fyn en so half taai. Baie lekker. Eintlik geëet om uit die reën te kom – en toe hou dit wonderbaarlik ook op toe ek begin afstap.
In Eisenach rondgeloop tot half vier se kant. Nog ‘n mooi stadjie, veral omdat daar baie min nuwe geboue in die kern gebou is (Oos Duitsland). Bach se geboortehuis besoek – ingesluit by die besoek is ‘n kort vertoning waar ‘n man op ou instrumente uit sy tyd gespeel het. Terwyl ek daar sit en luister dink ek om een of ander rede aan ‘n musiekvertoning wat ons een Sondagmiddag in die Teologiese Skool se kerk bygewoon het (ons moes gaan, ek dink ek was in standard nege) en hoe mooi Bach se musiek vir my was. Maar dit was die orrel en dit was kerkmusiek – ek het dit nie geassosieër met klassieke musiek nie! Nooit geweet Bach het twintig kinders gehad nie – die ou bogger. Darem by twee vrouens, en ook dat van sy seuns ook bekende musikante was nie.
Die Luther Huis staan net ‘n blok verder – maar dis een van vele Luther huise in die omgewing. Kom agter hierdie is Luther, Bach en Goethe wêreld.
Met die trein na Weimar. ‘n Plek waarvan ek bietjie gelees het, maar moet erken nie veel weet nie. En tog laat “Weimar” my aan geskiedenis op skool dink – die kortstondige Weimar Republiek na die Eerste Wêreldoorlog. My blyplek is naby aan die stasie, gelukkig, want dit storm nog steeds – gelukkig sonder rëen. Stap in die donker na die sentrum, maar as gevolg van die weer begin die kersmarkte se stalletjies reeds toemaak. Dis net by die Glühwein stalletjies waar daar nog klompies mense is.
Vandag het ek klomp plekke om te besoek. Weimar is waar die Bauhaus styl begin het en drie geboue is deel van die Bauhaus Wêrelderfenisgebied (die ander is in Dessau) en dan is die “Klassieke Weimar” ook verklaar: dit sluit klomp parke, paleise en geboue in – onder andere Goethe, Schiller en Herder se huise. Interssant dat hulle in hulle in hulle leeftyd al bekend en vereer is – het nie baie gebeur met kunstenaars in diė tyd nie.

No comments:

Post a Comment