Sunday 11 December 2011

Moskou 26 November: Deel 2

Stap eers om die klooster om te sien hoe dit lyk van die meertjie aan die agterkant af.


Kom dan, half toevallig by Novodevichy begrafplaas uit – ook hierna het ek ‘n keer te lank gesoek omdat ek gedog het dit is verder weg - en eintlik teen die een muur van die klooster. Dis die begrafplaas waar die elite en belangrike mense begrawe is. Die probleem wat ek ook vantevore gehad het (behalwe die eerste keer toe 'n skrywer my gebring het) is hoe om by spesifieke grafte te kom. Daar is 'n plan maar die name is net in Russies en om 'n paar name tussen die honderde te vind, is onmoontlik. 'n Vrou kom na my met 'n boekie wat sy vir amper R100 verkoop, maar dis in kleur en met duidelike aanwysings en fotos van die belangrike grafte – baie van hulle is nie vir my belangrik nie, maar dan is daar tog Yeltsin en Kruschcev.

Ook Raisa Gorbachow.

 Verder is daar 'n paar skrywers en komponiste wat ek ken begrawe, soos Chekov.

Soms kan aflei waarvoor persoon bekend was aan dit wat op die grafsteen uitgebeeld word – vliegtuie, ruimtetuie – of ontwerpers, ingenieurs of dalk vlieëniers - musieknote - dalk komponiste of sangers wat nie ken nie.
'n Paar ander is net besonder, geen idee wie hulle was nie, mans of vrouens met babas, diere en ander dinge.

Dan terugsentrum toe, uit by Teatralna stasie waar daar uiteraard ‘n paar teaters is – onder andere die Bolshoi. Pas gerestoureer vir dermiljoene en al kan ek ook niks gaan kyk nie wil ek darem daar verbyloop. Die gebou lyk van buite maar soos van die ander nuut gerestoureerde huise van die vorige adellikes, maar binne ...!

Vooraf navraag gedoen maar Lyuba het laat weet alle kaartjies was uitverkoop. Die twee kere in die verlede wat ek wel iets bygewoon het, sal van die ervarings wees wat ek altyd sal onthou. Dit was wel 'n redelik onbekende opera en ballet, maar die interieur, en net die gevoel om daar te sit, was absoluut ongelooflik. Kan die keer onthou toe Felicitė en ek 'n uitstalling gedoen het en hier was (en sy so geraas het met twee Amerikaanse meisies wat gesit en gesels het tydens die vertoning) en toe ons uitgeloop het in die koue het jy aan die oorkant die helder rooi sterre op die Kremlin se mure gesien.

Loop terug, redelik besig op die sypaadjie.
 In ‘n stadium stap daar ‘n man by my verby en een kom tot langs my en die volgende oomblik val daar ‘n plastieksakkie by die man voor my – kan dadelik sien daar is geld in. Ek en die man langs my roep dadelik maar hy stap aan. Die een langs my tel op en loop en gee dit vir die een voor ons. Hy bedank vreeslik, ook vir my. Ek en die ander een loop aan en omdat hy gehoor het ek praat Engels vra hy waar ek vandaan kom. Hy is van Moldawië. Die volgende oomblik is die ander man weer by ons en vra of daar nie ‘n ander sakkie was nie - hy het twee sulke geldsakkies gehad. Ons sê nee, daar was net een. Stap weer aan en dan is hy skielik terug met ‘n polisieman. Diė vra ook oor die geld uit en vra na ons paspoorte. Sê myne is in die hotel (vergeet jy moet dit hier altyd by jou dra) maar as hy hoor ek praat Engels is hy half verskonend, praat self ‘n paar woorde Engels: O, is ek ‘n toeris? Hy sê dan hy is baie jammer, maar dis sy werk en hy moet uitvind vn die geld. Ek haal my beursie uit, het net roebels en euro, klaar dollers gewissel. Polisieman vra dan waar my dollers is en ek sê  ek het nie. Hy vra weer en vervies my - vra of hy in my sakke wil kyk. Nee dis goed, baie dankie en ek kan maar loop. Die hele tyd het die man wie se geld dit is, in Russies beduie, nee, dis nie ek nie, dis die ander een. Maar dan kan ons loop en skei ons paaie. Dis eers ‘n dag of twee later dat iemand praat van die oneerlike Moldawiërs (nie dat ek dit regtig glo nie, Angela het dit altyd van die Georgiërs ook gesê) dat ek begin wonder het of die man nie dalk die ander een gesakkerol het nie ... maar waarom die ander sakkie laat val. En dan weer, as ek terugdink was dit of die sakkie geld vorentoe geval (gegooi) is ...!
Hier in die sentrum is klomp eetplekke, wat ek weet duur is, maar ek gaan verstaan wat te eet is, en ek gaan by een in. So 'n vreemde ingang half agter ander geboue, nie baie mense 4uur die middag nie, maar die kos is op die ou end heerlik. Rooi borsch sop, wat ek altyd gedink het Russies is, maar Lyuba vertel later dat dit eintlik Ukraïenies is. En dan “barbeque lamb”, hoewel ek my al hoeveel keer voorgeneem het om nie skaapvleis oorsee te eet nie (behalwe in Argentinië). Dis egter ‘n verrassing en baie heerlik: stukkies ribbetjie maar aan ‘n sosatiestokkie gebraai, baie min been.
Dan metro toe en gaan neem eers fotos van die mooi Moskoumetrostasies. Ek sien hulle altyd maar het nog net een keer moeite gedoen om fotos te neem. Dis nogal moeilik omdat daar altyd strome mense is en min plek waar jy uit die pad van die mense kan staan en fotos neem en ook nie altyd mense kry voor dit wat jy wil afneem nie.  In ‘n ou gidsboekie kry ek ‘n lys van die die uitstaandes. Komsomolskaya: koepeldak met stroke marmer teen die mure en hoë kandellare maar spesiek indrukwekkend is die frescoes tussen die plafonkandellare – kommunistiese patriotiese uitbeeldings van die Russiese geskiedenis, Lenin in al sy glorie.
Ook Kieskaya, Novoslobodskaya (glaswerk) en nog na een of twee ander.
Dits werklik besonders: Stalin wat gese het dat dit so al lyk: kunsgallerye vir die proletariaat wat dit daagliks moet gebruik. Nie soos westerse gallerye wat net vir die elite is nie! 

No comments:

Post a Comment