Friday 16 December 2011

Donderdag 15 Desember: in kort

Moet ver ry vandag – gee myself dus net ‘n paar uur in Regensburg. Reën saggies as ek my bagasie in die kar pak en stad toe stap. Die blik oor die Donau en die ou stadjie aan die ander kant is vanoggend net so mooi soos gisteraand. Stap rond waar ek gisteraand ook was, op elke mark is daar ‘n kersmark, maar die meeste is nog toe. Nou klipstraatjies, ‘n reuse Dom, geboue almal pastelkleure geverf – ‘n mooi stad, sal wil terugkom hierheen.
Elf uur terug by kar – en dan begin dit weer reën! Volgende stoppunt is Bamberg, op pad na Frankfurt. Die paaie is soos altyd ongelooflik besig. Rye en rye lorries, meer as die helfte van ander lande – besef dis hoe die vorige Oosbloklande hulle produkte kry. Maar daar is selfs heelwat lorries al die pad van Turkeye af. Mooi Beierse landskap: lae kronkelende heuwels, klein dorpies met ‘n prominente kerktoring,groen velde later meer bosse. Aanvanklik kort-kort oor die breë Donau, an later weer die Mmain. Draai dan af na Bamberg en besef ek gaan baie min tyd hê maar dan het ek dit darem gesien.
En Bamberg is dan een van die verrassings: mooi klein stadjieweerskante van die Ryn-Main-Donaukanaal en as jy dink dat die stad al in die elfde eeu gestig is, besef jy hoe oud moet die kanaal wees om skeepsvaart langs die drie groot Europese riviere moontlik te maak. Dorpie is op sewe heuwels begin omdat die keiser of heerser (ek is teen hierdie tyd heeltemal deurmekaar met wie keisers, konings, baronne, grawe, landgrawe, prinse, hertoë of wat ook al gehad het – en soms was dit net ‘n dorpie en die onmiddelike omgewing – elkeen het op sy eie mishoop regeer. G’n wonder Bismarck wou Duitsland verenig nie) ‘n stad wou begin wat net so belangrik as Rome vir die Katolieke was. Dit het toe nie gewerk nie en het nooit belangrik geword nie – en het daarom ook baie min skade in die oorlog opgedoen – gelukkig. Hierheen kom ek een dag terug.
Dan die terugtog na Frankfurt, reeë met rukke en die pad is ongelooflik besig, veral buite om Frankfurt in die donker en reën. Net na vyf is ek by Europcar, nêrens ‘n plek gesien om petrol in te gooi nie. Die vrou wat die kar wil terugneem, sê dan dis goed maar daar is ‘n “penalty” van 5 euro pper liter – R55 per liter! Vra hoe hulle dit kan doen as daar nie plek is om petrol in te gooi nie. O, daar is een by Terminaal 2, net moeilik om te kry. Ek vervies my, vat die sleutel terug en sê ek sal dit self gaan ingooi. Na ek drie keer deur Terminaal 2 en terug op die besige snelweg was, sien ek die garage op die ou end aan die oorkant van die snelweg lê. Alhoewel ek baie tyd gemors het, gee dit groot tevredenheid omdie kar dan vir haar terug te gee.
Herpak gou want ek moet moet voor 10 in Eisenach wees en nog ‘n treinkaartjie koop. Die volgende drie dae gaan so verloop: vanaand na Eisenach, môremiddag van daar na Weimar en dan Sondagoggend terug lughawe toe via Würzburg. In al die plekke is daar Wêrelderfenisgebiede. Kry kaartjies sonder problem en die trein is net na sewe daar – 10 minute laat ... en dit in Duitsland! Al die Duitse langafstandstreine is sulke spitsneus, vaartbelynde wit, ECI treine. Gaan na Dresden maar binne twee ure is ek in Eisenach.
Koud en donker – sien uit om môre in die lig te sien hoe dinge in die vorige Oos Duitsland verander het na die hereniging, Onthou in 1991 toe ek met ‘n kar van Nederland na Praag en Budapest gery het, die ongelooflike verskil as jy oor die vorige grens gery het: hoe donker en armoedig dit was in die vorige Oos Duitse dorpies.
Ek het nie ‘n idee waar die Jeugherherg is nie en moet dus ‘n taxi vat – wat ek nie sommer doen nie. Maar dis ook maar goed want dit is ‘n hele end, so half buite die dorp. As ek geweet het waar dit is, sou ek gestap het, al is dit ver. Op pad sien ek reeds Wartburg teen ‘n lae berg – dis hoekom ek hier is: die Wartburg kasteel. Bly dus nie ver daarvan af nie, so half in ‘n bos.
Donker by JHB, ouer gebou as gisteraand, maar netjies en skoon en ek hou meer daarvan. Besef dis ‘n ideale manier om goedkoop te reis in Europa in die winter wanneer daar nie hordes kinders en jongmense is wat my gaan irriteer nie. Kry my kamer (weer ‘n driebed een waarin ek alleen is) en kry vir my ‘n bottel wyn – en  werk nog vir so ‘n uur aan ‘n student se hoofstuk. Dan is ek net te moeg.

No comments:

Post a Comment