Saturday 10 December 2011

Salzburg, Saterdagaand 10 Desember

Nou net terug by my hotel. Heel dag in die reën rondgeloop en met my verkoue wou ek eintlik net slaap vanaand maar mens kan nie in Salzburg wees en nie na musiek gaan luister nie. Koop dus vanoggend vir my 'n kaartjie voor ek nog 'n blyplek het.

Baie ver agter met hierdie reis se notas maar laat ek eers oor vanaand skryf. Die konsert was in 'n saal in die Maribell Kasteel. Nie 'n kasteel soos ons 'n kasteel ken nie, maar daaroor sal ek later vertel, maar 'n heel besondere plek vir so 'n konsert. Die trappe en die saal is tipies oordadig barok maar ek hou daarvan.
 Al die stukke is vir viool en klavier en volgens my leukekennis is al twee violiste en die pianis baie goed (te oordeel aan hulle CV's ook). Die een violis is so 'n korterige, ouerige oom, as hy nie 'n swart pak aan het nie, sal jy dink hy is 'n opsigter iewers. Die ander een is 'n mooi jong meisie - hulle styl verskil heeltemal: hy staan so bedaard en speel, wieg net so effens vorentoe en agtertoe op sy voete; sy leef haar in, met haar gesig en lyf - interessant om die twee saam te sien en die interaksie tussen hulle. Voel net jammer vir die pianis: sy is ewe goed maar hulle staan voor haar en speel en sy kry eintlik geen aandag nie en dis nie of sy hulle net begelei nie.

Heel gepas in Salzburg is drie van die ses stukke wathulle speel van Mozart. Heel besondere aand - en kry dit selfs reg om nie een keer te nies of neus te blaas terwyl hulle speel nie.

No comments:

Post a Comment