Sunday 11 December 2011

Moskou: Saterdag 26 November 2011 - Deel 1

Nou eers terug in tyd – toe ek nog nie daaraan gedink het om te skryf nie. Saterdag die 26ste November, die dag nadat ek in Moskou aangekom het.
Vandag is ek op my eie en ek het reeds besluit wat ek wil doen – met metro na Rooi Plein en Kremlin en sal dan ek verder sien. Jong man wat nagdiens gewerk het en goeie Engels praat, gaan wys my waar die metro is - so 200 meter weg, heel maklik, alhoewel mens oor treinspore moet gaan wat glad nie bewaak word nie en ek het juis deur die nag gehoor hoe jaag die treine verby. Hy sê dat mens maar versigtig moet wees want hy het al gesien die waarskuwingsligte werk nie altyd nie – en die ergste is dat die trein hier om ‘n draai kom – is net skielik daar!
Anderkant die spoor gaan mens deur so ’n  gangetjie met kioske en winkeltjies wat aan beide kante van die paadjie gebou is en toe maar so half permanent geword het. Die hele 100 meter van hier tot by die metro is nou een groot mark met tydelike en minder tydelike stalletjies wat enige iets verkoop. Dis vir my die eerste van baie ooreenkomste met SA: vryhede na demokrasie - of mense wat so half doen wat hulle wil, regulasies word nie meer toegepas nie, die owerhede en polisie word omgekoop om hulle met rus te laat. Die kioske wat kos en drank verkoop is dwars deur die nag oop. Waarvan ek hou, is dat jy hier blikkies gintonic (soos die Russe dit noem) kan koop!
Die metro is meer modern as laas. Werk nie meer met plastiekmunte nie maar jy kry ’n  kaartjie waarop de aantal ritte waarvoor jy betaal, geregistreer is. Elke keer deur as jy deurgaan, word gewys hoeveel ritte oor is. Wat lekker is, is dat as jy eers binne is, jy die hele dag kan ry – as jy dit sal wil doen. Vir my het dit goed gewerk toe ek later die mooi metrostasies wou afneem en van stasie tot stasie gery het.
Daar is verkopers wat die hele dag van die een metro na die ander gaan en goed probeer verkoop – gebeur ook op treine: skielik gaan die deur oop en staan daar iemand met ‘n tas en dan begin hy of sy lang stories vertel oor die produkte wat hulle verkoop. Ander kere is daar bedelaars wat net so lang storie vertel voor hulle deur die wa begin loop en hoop iemand gaan iets gee.
Wat dieselfde gebly het, is die roltrappe af – wat soms baie diep onder die aarde ingaan – en onder, waar verskillende lyne kruis en daar meer as een stasie is, die trappies en gange en hordes mense wat bymekaar verbyskuur. Ek is op die grys lyn – baie maklik want ek kan reg deur ry tot by die Kremlin.
Behalwe die mooi stasies, waaroor ek later sal vertel, is die opvallendste kenmerk van Moskou se metro dat die treine so vinnig op mekaar volg. Daar is geen rede dat mens hardloop vir ‘n trein nie, die volgende een is binne twee-drie minute daar. Dit bly vir my ongelooflik, en ewe ongelooflik is dat hulle altyd vol is. Die kere wat ek kon sit, kan ek op een hand tel.
Vier vyfdes van mense dra swart jasse en baadjies, almal het musse, hoedens of pette op. En ek moet sê: Moskou bly die stad met die mooiste meisies.
Kom bogrond by die Nasionale Biblioteek - of Lemninbiblioteek, soos die stasie nog genoem word. Interessant dat soveel van die ou name en standbeelde nog bestaan. Hier voor die biblioteek staan Lenin se standbeeld ook nog. In Eketarinburg, het ek later gehoor, is daar doelbewus besluit om nie straatname te verander nie omdat daar nie geld is nie – so anders as wat by ons gebeur. Loop deur die Alexandertuine loop wat langs die Kremlin lê. Die tuine is anders as die vorige kere, mooi in die latsomer met blomme, in die herfs met die herfsblare, maar nou is dit vir my half mistroostig: nie blare aan die bome nie, nie mense wat rondloop nie, nie musiek nie. Dis net by die graf van die onbekende soldaat met die vlam wat altyd brand waar mense soos altyd hulle fotos laat neem saam die twee soldate wat op aandag staan.
Dan die Rooi Plein: so ‘n effense steilte  en dan deur die poort wat na demokrasie weer herstel is. Stalin het dit afgebreek, saam met die Kazan katedraal op die hoek sodat tenks en voertuie kon deurry vir Meidagvierings. Na die val van Kommunisme is dit weer gebou – presies soos die vorige een – en as ek nou na die kerk kyk, kan ek nie glo dit was met my eerste besoek in 1995 nog nie heeltemal klaar nie. Dit lyk so deel van die omgewing.
Dis die vyfde keer dat ek hier kom, en elke keer is dit ‘n besondere ervaring as jy skielik St Basils Basilica aan die oorkant van die Rooi Plein sien. Vir my sal dit altyd die beeld van Rusland bly - die veelkleurige, vreemde uiekoepels.
Die Rooi Plein word reggemaak vir Kerstyd – ‘n ysskaatsbaan voor die Gum, en orals kersversierings.
Minder mense as gewoonlik, dis duidelik nie vakansietyd nie. Lenin se mausoleum is oop, ek dink dit is die eerste keer in al die tyd wat ek hier kom. Wil dit sien, maar mens moet ‘n kaartjie in die Historiese Museum koop en dit gaan tyd vat en ek wil eers Novedivichy toe gaan.
Die Kremlin maak minder indruk as die vorige twee kere wat ek binne was. Die eeste keer was daar net die ongelooflike ervaring on in die Kremlin te wees – groot geword met die vrees, daar was so 'n geheimsinnigheid aan, iets om voor bang te wees want dit is waar die kommuniste besluite geneem het wat ons bedreig het! Daar was die onsekerheid om deur die poort te gaan, die soldate met pette met rooi bande te sien, en in jou spoor te trap – as jy van die paadjie afgestap het, is daar skrrl met ‘n fluitjie geblaas en met ‘n knuppel gewys waar jy moet loop. Daar staan nog hier en daar ‘n soldaat, maar stil vandag. Verby die konkreet en glas strak gebou waarin die Duma vergader, destyds was die hamer en sekel nog baie prominent.
Die groot gebreekte klok en die groot kanon, een van die tsars wou die grootste gehad het – nooit gebruik nie, heeltemal te swaar. Lees dat die stuk van die klok wat afgebreek het elf ton weeg. bestaan uit 80% koper. By ons sal die klok dus lankal gesteel gewees het - gewig ten spyte. Nog een van die gunstelingplekke waar Russe hulle laat afneem.
Wil nie weer betaal om die Armitage te sien nie – die kosbaarhede uit die Russiese geskeidenis – van die tsars. Mens kan ook net soveel goue koetse of swaarde met robyne sien.
Die klomp heel besondere en baie ou katedrale (hoe op aarde het hulle behoue gebly in die kommunistiese tyd) en waar die tsars kerk toe gegaan het,is wel baie besonders. Hulle is letterlik van grond tot plafon oortrek met ikone en frescoes – hier is wel Russiese groepe onder begeleiding en omdat die katedrale hulle klein is, en ek nie van so 'n gedrang hou nie, loop ek gou. Laas toe ek saam Felicitė hier was, het ons in detail gekyk.
Onthou dat mens laas nie binne mag fotos geneem het nie, maar ek vat 'n kans – sien nie ‘n teken nie maar gou is daar sommer twee gidse wat gelyk sê dit mag nie. Intussen het ek my vier fotos geneem. Dis vir my 'n simpel reëling – as jy nie 'n flits gebruik nie, kan dit tog geen skade doen nie en die meeste groot kunsmuseums in die wêreld laat dit toe. Maar ek dink ek weet wat die rede is, museums maak geld deur poskaarte van die interieur te verkoop en as jy nie mag fotos neem nie, koop jy dikwels 'n poskaart om te onthou hoe dit gelyk het. Ek is nie lank in die Kremlin nie.
Metro na Novodevichy – en maklik. Een van die drie Wêrelderfenisgebiede in Moskou. Ek was al 'n paar keer hier, maar hou van die plek. Onthou hoe ek een keer uit die metro gekom het en nie ‘n idee gehad het in watter rigting om te stap nie. Dis nogal 'n probleem in die stad as mens uit die metro kom omdat daar soms meer as een stasie ondergrond is en almal met gange verbind is en daar 'n klomp in/uitgange, soms 'n paar blokke van mekaar af is. Jy kom bo op straat en het nie idee in watter rigting moet jy stap om by jou bestemming te kom nie. Hier is dit egter nou maklik want daar is 'n nuwe bord wat wys na die klooster – Rusland begin aandag gee aan toerisme! Die klooster self, groo en ommuurr naby die rivier, is van buite indrukwekkend, maar binne vir my minder hierdie keer.
Dalk omdat ek al soveel keer hier was, dalk is dit die weer, donker en nat – onthou die keer wat 'n kerkdiens aan die gang was, die mense wat rondgemaal het, reuk van kerswas, diep Russiese mansstemme wat sing, ou tannies wat bedel – nouis dit dood. Die belangrikste kerk word grestoureer en daar is net 'n paar mense wat rondloop. Bome sonder blare. Ek bly nie lank nie.


No comments:

Post a Comment