Saturday 3 December 2011

Novgorod, Rusland

'n Week in Rusland en ek moes 'n week gelede begin skryf het - maar ek sal probeer opsom.

Eers vanaand: die interessantste mense ontmoet. Saam Lyuba na vriende van haar, een van die skrywers met wie sy gewerk het by die vorige uitgewery waar sy gewerk het: Vladimir en Valery. Albei het Regte in St Petersburg studeer maar vandag doen hulle "self development" opleiding (hulle is nie motiveringsprekers nie, beklemtoon hy!) en is blykbaar in groot aanvraag reg oor Rusland en vorige Russiese gebiede. Te oordeel aan hulle vier-verdieping woonstel gaan dit ook finansieël goed.


Die groot interessantheid van die aand is egter hulle vriendskap met Putin. Hulle was saam met hom op Universiteit en daar is 'n hele klomp fotos van hulle saam met hom in hulle huis. En ten spyte dat hulle sê hulle hou nie van hom as 'n politikus nie neem die fotos 'n baie prominente plek in hulle huis in, bv in die sitkamer. Hy spot in 'n stadium en sê dat jy nie vir beter sekuriteit kan vra as dat mense dit in jou huis sien nie. Hulle vertel dat hy op universiteit maar vaal en onopvallend was en geen meisies het in hom belang gestel nie. Hy het ook geen leierseienskappe getoon nie. Hy was net doodgewoon en nie een van hulle sou ooit kon droom dat hy een dag president sou word nie. Na Universiteit het hy by die KGB begin en is later Oos Duitsland toe tot met die val van Kommunisme. Sy vordering van assistent van die rektor van die Universiteit van St Petersburg 'n paar jaar later was egter fenomenaal. Hulle sien hom elke jaar tydens hulle studentejaar se reunie en hoewel hy glad nie drink nie, sal hy die hele tyd saam met die ander deurbring, miskien 'n paar uur weggaan vir een of ander regeringsaak maar weer terugkom. Op een van die fotos sit hy en Valery en gesels en as ek vra hoekom haar gesig so gloei op die foto, sê Vladimir, ja, hy was verlief op haar op universiteit.


Soos almal met wie ek al gepraat het, is hulle nie vol moed oor die politiek nie. Môre is dit verkiesing van die Duma, maar ook hulle gaan nie stem nie. Putin se party gaan tog inkom - daar is geen opposisie nie - en die regerende party is so korrup dat hulle nie daarmee geassosieër wil word nie. Waar hulle my so effens verloor vanaand, is toe hy vertel (en hy glo dit ten volle) dat Putin die reïnkarnasie van 'n vorige tsar is ... hy het dit vir hom gesê en Putin het blykbaar redelik geskrik toe hy dit hoor!

Stap laat aand terug hotel toe - en hoewel dit koud is, is dit glad nie so erg as wat ek verwag het nie. Hulle gaan wys ons eers Rachmaninof se standbeeld: hy is in Novgorod gebore. En daar laat aand in die koue in die parkie speel Rachmaninof se musiek oor 'n luidspreker!

1 comment:

  1. Wonderful photo! Thomas, please send it to me when you'll able to do it.

    ReplyDelete