Wednesday 7 December 2011

Kazan, 6 Desember 2011

Kazan: 13:45
Dis goed dis my laaste dag van reis hier – die hele tyd so ‘n fyn reëntjie, net genoeg om my kamera nat te maak – en my groen jas is natuurlik ook nie wonderlik reënbestand nie. Ek het vanoggend gesien dit is vriespunt, wat nie erg nie. Wat dit sleg maak, is die wind en omdat Kazan op die walle van die Kazanrivier lê wat hier uit ‘n klomp vlak systrome bestaan, is dit ‘n koue wind.
Kry weer respek vir die Russe – om winter vir winter so deur te gaan! En vir hulle is dit nog nie eers winter nie: elke keer as ek praat van winter het mense gelag en gesê, dis nie winter nie, die winter begin eers Januarie! Die paaie en sypaadjies (waar dit bestaan) is ‘n gemors – modder, hope vuilsneeu en seepglad waar die reën en ys wat gesmelt het, gevries het.

Loop eers reg rondom die Kremlin – heeltemal ommuur, sneeu op die walle tot teen die wit muur. Van ‘n afstand is die torings van ‘n Ortodokse Kerk (so tipies Rusland: blou koepels en goue kruise) en ‘n groot moskee heel opvallend. Die moskee is blykbaar nuut en weer ‘n teken van Unesco se dubbele standaarde: daar mag nie aan ‘n Wêrelderfenisgebied verander word nie maar hier is toegelaat dat ‘n moskee gebou word. Toe die Duitsers ‘n nuwe brug oor die Elbe gebou het by Dresden, is die WHS status weggeneem omdat daar aan die oorspronklike verklaarde gebied verander is. Duitsland probeer al vir hoeveel jaar om die historiese deel van Heidelberg te verklaar maar elke keer is daar iets anders waaraan eers aandag gegee moet word. Intussen is daar WHS in Afrika wat besig is om totaal tot niet te gaan maar niemand in Unesco is begaan daaroor nie.

Gratis om in te gaan – groot en oop soos in Moskou, stap deur en neem fotos en gaan selfs in die Museum Vir Tartaargeskiedenis in (om uit die reën te kom) hoewel ek nie ‘n snars verstaan nie: nie ‘n woord in Engels nie. Een van die vrouens hou aan verduidelik wat uitgebeeld word, hoewel sy kan sien ek verstaan niks – bring later vir my ‘n kalender met Engelse teks. Klein, modern museum aan die kant van die president se woning oor die Tartare se geskiedenis. Onthou dat ek gelees het dat Kazan die hoofstad van Tartarstan is – een van die gebiede wat heeltemal binne die nuwe Rusland val (anders as Tadjikistan, Uzbekistan, ens wat onafhanklik is) maar hulle het sogenaamd selfregering. 52% van die bevolking is Muslim, maar hulle word tevrede gehou met die status. In die praktyk beteken dit niks: gewoon deel van Rusland en al die Russe sien dit ook so. Totaal anders as Chechnia.

Nie honger nie, maar om te gaan eet, is ‘n manier om uit die reën te kom. Een restaurant in die kompleks en omdat dit regeringsgeboue is/was, lyk dit heel goed, veral na restourasie. Die mure, plafon en kandelare is diė van ‘n herehuis, maar die res is tipies uit die Soviettyd: tafeltjies met plastiekkleedjies, toonbank met gebak met die prys van elkeen op ‘n bordjie geskryf en dieselfde met die lekkergoed en koeldrank wat agter op rak uitgestal word. Die kos self kry jy langsaan in ‘n ander lokaal by ‘n selfhelptoonbank maar jy moet vir die tannies sê (wys in my geval) wat jy wil hê. Dit maak dit vir my baie makliker. Plat maalvleispattie, wat toe vark is maar heel lekker met joghurt bo-oor; gekookte kool en uie – alles in aparte kleinbordjies. Ek het agtergekom kool is nogal lekker – dis in elk geval stapelvoedsel hier – en het selfs al koolslaai geëet, wat ek nooit by die huis sal doen nie – en ook koolpasteitjies – wat baie lekker was! Hulle is bekend vir piroggi (pasteitjies). Nie koffie nie – net tee: die teesakkie, ‘n klomp suiker en skyfies suurlemoen is reeds in die koppie, jy moet net water bygooi – en dit kos net R2. En dan ontdek ek boonop ‘n kragpprop en kan ek notas skryf. Wag die hele tyd dat een van die ou tannies kom sê dit mag nie, maar niemand steur hulle aan my nie en vir ‘n lang tyd kan ek  uit die reën in vrede sit en skryf.
Kazan: 14:30 Reën steeds liggies, sambreel, wat die hele tyd omwaai in die een hand, kamera in die ander en dan nog elke tree versigtig gee om nie te gly nie – nou nie juis ideale weer om in te reis nie. Besluit om nog na die kerk en moskee te gaan maar die twee ander museums te los. Nie lus vir nog rye uitstalkaste met net Russiese teks nie. Die “Annunciation Cathedral” is aan die een kant net nog ‘n ortodokse kerk/katedraal waarvan ek nou al baie gesien het, maar hierdie een maak tog indruk – miskien omdat ek alleen is. Dit is heeltemal oortrek, mure, pilare en plafon met fresco’s en ikone en dit is nie noodwendig dit nie, maar hier kry ek tog ‘n spirituele “gevoel” wat ek in baie ander glad nie gehad het nie.
Lees dat die katedraal in 2005 gerestoureer is, dieselfde tyd as wat die nuwe moskee so 100 meter weg gebouis. In die kommunistiese tyd natuurlik vir iets anders gebruik, baie van hulle was teaters, ander pakhuise, en museums – en dan die bekende een in Moskou wat Stalin platgeslaan het en ‘n opelug swembad daar opgerig is. En na die politieke verandering een van die eerste kerke was wat weer opgebou is, presies soos die vorige een teen miljoene der miljoene roebels.
Dan na die berugte moskee (berug vir my omdat Unesco dit nie behoort toe te gelaat het nie!) Iemand het geskryf dat die regering van Tartarstan die restourasie van die Ortodokse Kerk gedoen het, en vir ‘n groot opening gesorg het, ‘n maand na die inwyding van die moskee om te wys hoe gelyk hulle albei gelowe behandel. Die moskee is groots en modern en toeriste mag net met ‘n sy-ingang na ‘n spesiale balkon gaan. Geen atmosfeer vir my nie.
Skemerdonker (vier uur) begin ek die terugtog, eers na MacDonalds vir ‘n warm koffie en dan stasie toe. Vir oulaas deur die natsneeu en poele water. Dankie tog vir my Catepillar stewels. Moeilik om die regte plek in die donker te kry maar sien nou eers die indrukwekkende vooraansig van die stasie – werklik besonders.
Kazan: 17:00
Almal weer sommer so oor die spore na die trein. Baie, baie lekker om uit die reën in die warm trein te kom. En dan ‘n bonus: as die trein half ses vertrek, is ek alleen in my kompartement. Al wat kort, is ‘n plek waar ek my hare kan was: die laaste keer was Sondagoggend!

No comments:

Post a Comment