Wednesday 7 December 2011

Klin: 5 Desember 2011

Maandag 5 Desember
Net na vyf is ons in Moskou: heerlik geslaap en myself net een keer wakker gesnork. Baie gerieflik dat drie van Moskou se groot treinstasies hier bymekaar is en boonop ook stasies vir die moltreinstelsel het. Van Leningradskistasie na Kazan Vokzal (my transkribering vir stasie in Russies) om my rugsak saam met my groot tas, wat reeds daar is, te laat: van nou af net met’n  klein Unisarugsakkie met tandebordel, handdoek en laptop en kamera.
Voordat sy self huis toe gaan, maak Lyuba eers seker dat alles reg is en ek presies weet hoe om verder te maak: dit help nie dat ek verduidelik dat ek al baie jare reis nie: dis die ander kant van die Russe – hulle mag stroef en nors en onbedagsaam op straat en in winkels wees maar sodra jy iemand ken, gaan hulle uit hul pad om jou te help. So vroeg is daar reeds massas mense op straat en in die metro.
Dis nog donker as ek sewe uur die trein na Klin kry vir my dageksursie om na Tchaikovski se huis te gaan kyk. Ek weet dis ongeveer ‘n uur se ry maar kan in die donker nie die stasies se name sien nie (moenie Europese stasies met ligte en geboue hier verwag nie!) en kan ook glad nie uitmaak wat afgekondig word nie. Sluimer die hele tyd in. Vra twee keer vir ‘n meisie oorkant my of ons by Klin is, en uiteindelik maak sy my wakker as ons wel daar is.
Dis maar ‘n goor aankoms: kaal, oop peronne en so ‘n fyn reëntjie. Daar is nie ‘n stasiegebou waar jy jou kan orienteer nie: geen idee waarheen om te gaan nie, geen borde nie, niemand wat jy kan vra nie, nie sypaadjies nie, poele water en modder, houtkioske waar allerlei verkoop word: drank, kos en lekkergoed/koeldrank – tussen alles wat in die venster uitgestal word, is daar so ‘n klein skuifvenstertjie waardeur jy gehelp word. Kom later agter daar is tussen die spore ‘n stasiegeboutjie en gaan sit dan daar en slaap tot tien uur wanneer dit lig begin word.
Slaan op die ou end ‘n rigting in, wat later blyk half reg is. Geen dorpsbeplanning nie: hier aan die kant is ‘n moderne supermark, nie sypaajies nie, ‘n oop plek waar taxis en bussies stop, ‘n end weg nog ‘n busstasie met ‘n draadheining om, oop stukke moderrgrond, en dan van die tipiese Russiese woonblokke, met geen tuin of gras nie – net paadjie tot by ‘n staaldeur. Op die ou end help ‘n man in ‘n gebou wat van buite soos regeringsgebou gelyk het my: geen Engels nie  – maar nadat ek vir die tweede keer “Tchakovski dom” gesê het, gaan daar ‘n lig op en loop hy saam met my uit om die pad te verduidelik. As die mense Engels hoor, is daar onmiddelik so ‘n “blank” uitdrukking totdat hulle ‘n woord hoor wat hulle herken (as hulle bereid is om verder te luister).  Intssen het dit gelukkig opgebou reën, daar is later selfs ‘n flou sonnetjie en die 2km is ‘n lekker stap. Ek oortreë selfs my beginsels en eet by ‘n MacDonalds.
Die besoek is effens van ‘n teleurstelling. Omdat dit bereikbaar van Moskou af is, wou ek nog altyd kom maar ek het die idee gehad dat dit buite die dorp was langs ‘n woud. Natuurlik het dinge verander en dis nou so half aan die kant van die dorp en daar is nog so iets van ‘n woud en rivier maar dist e naby na my sin en daar is boonop ‘n moderne konsentsaal langs die pad gebou waar jy jou kaartjie koop en dan na die tuin beduie word: dit vat ‘n hele rukkie voor ek agterkom die eintlike huis is buite so ‘n endjie weg.
 ‘n Houthuis met ‘n hordde ou tannies wat daar werk – in elke vertrek sit een of twee, ‘n ander een vat jou jas, nog een wys jy moet lapskoene oor jou skoene trek – en die ou tannie kom kniel dan sommer en trek dit vir my aan. Sy het seker gesien dat die man gaan sukkel om te buk. Maar hulle is darem nie so erg as by ander museums waar hulle jou die hele tyd volg nie: hier is die vertrekke klein genoeg, hulle kan sommer sit en jou met hulle oë volg. Ek weet nie wat ek verwag het nie, maar dis tog ‘n teleurstelling: houtvloere, netjies onderhou en ek neem aan die meubels kom uit sy tyd, so ook die horde soeweniers en fotos, maar buite het ek gesien hy het net tussen 1822 en 1823 hier gewoon ... ek het gedog hy het hier grootgeword! As ek geweet het watter musiek hy hier geskryf het, sou dit dalk anders gewees het maar daar is geen Engelse opskrifte en byskrifte nie en ek het nie ‘n idee wat daar gesê word oor sy tyd in die huis nie. Wat wel opvallend is, is dat daar in die rukkie wat ek by die kompleks was, vier skoolgroepe met busse aangekom het en tydens die begeleide toere het die kinders aandagtig geluister – ook by ander museums gesien.
Daar is baie tyd voor my trein vanaand van Moskou af vertrek en loop rustig terug stasie toe. Staan hele rukkie op perron en lees terwyl ek wag - probeer van koue vergeet (maar elke keer as ek van koue praat, dan besef ek: dis niks in vergelyking met destyds in Sjina nie!). Hier het ek ‘n slegte ervaring: twee dronk mans begin baklei, sommer hier tussen die mense, party staan en kyk, ander draai weg. Hulle is gelukkig so dronk dat daar aanvanklik geen skade gedoen word nie, dis eerder ‘n  gestoeiery, maar dan kry die een dit reg om die ander een met sy kop te stamp. Hoewel albei dronk is, het die een duidelik die oorhand en as die ander een eers val, skop hy hom en hou aan slaan. Een man probeer hulle so halfhartig stop (en as ek eerlik is, waarom sal mens betrokke raak?) tot ‘n ou tannie met hulle begin raas en die een wat skop met haar sambreel begin slaan. Mens sien altyd polisie op straat – waar is hulle nou. Die hele affêre ontstel my nogal: ek hou nie daarvan om te sien hoe mense beheer oor hulleself veroor nie en ek hou nie van sulke geweld nie.

No comments:

Post a Comment