Wednesday 7 December 2011

7 Desember: Moskou na Frankfurt

Net na ses in Moskou. Ouer trein, net genoeg water in die wasbakkraan om tande te borsel – gelukkig water in die toilet en gelukkig min mense in die wa anders sou dit ‘n groot gemors gewees het.wanneer ek wakker word (13 uur op die trein) is daar bosse en sneeu en af en toe staan ons stil op ‘n stasie waar hier en daar ‘n flou liggie brand. Wanneer ons ses uur Moskou begin binnery, is daar ‘n groot maan in die lug.
Kry my bagasie, herpak gou,af na metro en na Paweletski stasie waar ek by die ingang na die lughawe espress trein vir Luyba sien staan – sy wou net kom kyk of alles reg verloop het en ek van hier sal regkom lughawe toe! En haar vriende van Novgorod het gebel en gesê sy moet baie groete stuur.
Die reis na lughawe is iets nuts en daar is blykbaar nou so ‘n sneltrein na elke lughawe rondom die stad. Voor nege al by lughawe en my vlug is eers drie uur. Vra, maar daar is geen vroeër vlugte nie. Sien gelukkig dan daar is storte vir 300 roebel (effens minder as R100 – wat ek nie gaan betaal nie - maar jy kan ook die ruimte “huur” om net daar aan te trek vir 50 roebel. Was my hare en die belangrikste by die wasbak, trek ander hemp aan en voel sommer heelwat beter.
Deur doeane na die vertrekruimte – ten spyte van vriende en goeie tye, nou en tydens die vorige besoeke, is dit tog elke keer lekker om verby die doeane te gaan en te weet jy is op pad uit. Dit is net te moeilik om so min te verstaan, so onseker te wees oor hoe goed werk, wat om te vra, die weer, onvriendelike mense ... kan nie glo ek het die Russiese alphabet op ‘n tyd geken en dit weer verleer nie.
Besig – aanmekaar vlugte wat vertrek, min ruimte, mense drom saam – en om te dink daar is nog twee ander internasionale lughawens hier! Slawiese gesigte, Mongoolse gesigte – harde gesigte, vel wat lyk soos leer. Mooi meisies, hare los en lank, stywe langbroeke – duidelik daarop ingestel om indruk te maak – maar ook gesigte wat nooit glimlag nie. Jy glimlag eenvoudig nie vir iemand wat jy nie ken nie.
Laat my dink aan die artikel wat ek by die lughawe in Ekaterinburg gelees het en my gesprek met Luyba daarna. Iets waaroor ek al baie gewonder en oor gepraat het en ook nou weer gou agter gekom het: die Russe wat so onvriendelik op straat en in winkels is – en dis nie die gewone swak diens nie – dit is daar ook. Maar die feit dat mense gewoon ongeskik is – die artikel gaan oor die Russe wat nie op straat glimlag nie. Jare gelede toe ek by twee skrywers gebly het, was hulle verklaring dat dit van die Kommunistiese tyd kom toe jy eenvoudig niemand kon vertrou nie – net mense wat jy ken. Op straat en met vreemdelinge het jy dus eenvoudig so min as moontlik oogkontak gemaak. Vir die artikel is die mening van buitelanders en Russe is gevra. Interessant is dat die Russe saamstem (nadat verduidelik wat die problem is) – en hulle redes: daar is geen rede waarom jy vir iemand moet glimlag wat jy nie ken nie. As jy glimlag dink die ander een jy lag vir hom, iemand sal onmiddelik wonder wat so vreemd aan hom/haar is dat jy lag (hulle wil nie gesig verloor nie, ek dink dis waarom hulle jou ook ignoreer as hulle hoor jy praat Engels, hulle draai eenvoudig weg, of wys net hulle verstaan nie – luister nie eers verder na die enkele woord wat jy ken en sal verduidelik wat die probleem is nie); hule sien dit ook as oneerlikheid – hoekom moet hulle glimlag/lag soos oneerlike Amerikaanse verkoopsmense; die gewone lewe in Rusland is hard en daar is nie rede om sommer te glimlag nie. As hulle glimlag is dit opreg en moet daar ‘n goeie rede voor wees.
Ure in die lughawe en gelukkig het ek leeswerk (boek oor Duitsland se geskiedenis, heel leesbaar geskryf); verhandelinge van Ghana wat al drie maande oor hulle tyd is, om te eksamineer; en dan ontdek ek ‘n plek war ek my laptop kan inprop en dat daar wi-fi is. Besig tot half drie as Lufhansa se Frankfurt vlug afgekondig word.

Drie ure vlug oor dik wolke maar as ons oor Duitsland daal begin dit ooptrek en kan mens die klein dorpies sien – en dit lyk selfs of daar ‘n flou sonnetjie is as ons oor Frankfurt se klompie wolkekrabbers rondom die Main vlieg.

Maar dit het nie lank oopgebly nie. As ek later op die snelweg kom begin dit effens reën en  later reën dit hard. Vyf uur en dit is pikdonker. El sal my dae goed moet beplan. En boonop is daar ‘n ander problem. Toe ek my lisensie by Europcar ingee om die kar te kry, sê die man, ek kan die kar net kry tot die 15de – my lisensie verval dan. Ek het nooit daaraan gedink nie – kry my nuwe lisensie eers as ek terug is. Sal my reisplan moet verander. Sal vroeër Oostenryk toe moet gaan en die laaste drie dae sal ek moet trein ry.
Die snelweg rondom Frankfurt is besig en dit bly eintlik besig tot in Bad Homburg waar ek vanaand slaap. Dit is ‘n Kur Ord en ek het nie gedink ek gaan sukkel met blyplek nie, maar loop ‘n blootjie by vier gastehuise en hotelle – almal is toe in die winter en op die ou end moet ek na die “Comfort Hotel am Kurpark gaan – 4-ster maar doodgewone klein hotelletjie – wat my klomp geld kos – en ek moet boonop ekstra betaal vir wi-fi. Dit was elke keer gratis in Rusland!
Gaan stap ‘n draai in die sentrum – winkelstraat,  half sewe – nog paar mense op straat, maar koue wind wat waai en winkels begin toemaak. Duitse kersgebak, glühwein en bratwurst word op straat verkoop.
Gaan vanaand laat werk (darem nog ‘n student se hoofstuk klaargemaak) en more eerste ding na Saalburg – gerestoureerde fort uit die Romeinse tyd.

No comments:

Post a Comment