Saturday 17 December 2011

Weimar: Saterdagaand 17 Desember

Voete seergeloop, maar wat 'n mooi stadjie. Koud, maar gelukkig, geen reën nie. En om my laaste aand in Europa te vier gaan ek netnou na Bach se Weihnachts Oratorium in die Stadtskirche luister. Dink dis nogal gepas om dit in hierdie tyd te doen en in die stad waar hy vir meer as 25 jaar gebly het!

More-aand op die vliegtuig.

Saterdagoggend 17 Desember 2011: Weimar

Tweede laaste dag. Hoop net die weer is beter die laaste twee dae as gister. Gister was een van daardie tipiese Desember stormdae. Ek onthou ons eerste winter in Holland in 1982, toe daar twee keer sulke storms was in Desember en ons oor die radio en TV gehoor het hoe word die dykwagters opgeroep vir diens en hoe benoud ons was! Nou was die storm net erg genoeg om rondloop baie moeilik te maak.
Maar rondgeloop het ek wel. Gewag, maar half elf gesien dit gaan nie ophou reën nie en toe maar my sambreel gevat ... die probleem is dat hy later nie meer waterdig is nie. En alhoewel ek maak of my groen jas ‘n reënjas is, is dit natuurlik nie. Berg-op na Wartburg en wens ek kon meer sien. Daar is dele waar jy van bo net bosse sien sover as wat jy kan kyk. Dis te danke aan die feit dat dit in die voormalige Oos Duitsland lê en daar vir lank nie regtig ontwikkeling hier was nie.
Wartburg was heel interessant (sal later meer volledig skryf) as ou kasteel maar ook omdat dit die plek is waar Luther “gevange” gehou is en die Bybel in Duits vertaal het. Heerlik geëet (vergeet om die resep te vra, Christiaan): dis ‘n sampioensop met groot stukke sampioen en in die midddel is daar so ‘n ronde hopie aartappelmengsel – die verkeerde woord, maar dis fyn en so half taai. Baie lekker. Eintlik geëet om uit die reën te kom – en toe hou dit wonderbaarlik ook op toe ek begin afstap.
In Eisenach rondgeloop tot half vier se kant. Nog ‘n mooi stadjie, veral omdat daar baie min nuwe geboue in die kern gebou is (Oos Duitsland). Bach se geboortehuis besoek – ingesluit by die besoek is ‘n kort vertoning waar ‘n man op ou instrumente uit sy tyd gespeel het. Terwyl ek daar sit en luister dink ek om een of ander rede aan ‘n musiekvertoning wat ons een Sondagmiddag in die Teologiese Skool se kerk bygewoon het (ons moes gaan, ek dink ek was in standard nege) en hoe mooi Bach se musiek vir my was. Maar dit was die orrel en dit was kerkmusiek – ek het dit nie geassosieër met klassieke musiek nie! Nooit geweet Bach het twintig kinders gehad nie – die ou bogger. Darem by twee vrouens, en ook dat van sy seuns ook bekende musikante was nie.
Die Luther Huis staan net ‘n blok verder – maar dis een van vele Luther huise in die omgewing. Kom agter hierdie is Luther, Bach en Goethe wêreld.
Met die trein na Weimar. ‘n Plek waarvan ek bietjie gelees het, maar moet erken nie veel weet nie. En tog laat “Weimar” my aan geskiedenis op skool dink – die kortstondige Weimar Republiek na die Eerste Wêreldoorlog. My blyplek is naby aan die stasie, gelukkig, want dit storm nog steeds – gelukkig sonder rëen. Stap in die donker na die sentrum, maar as gevolg van die weer begin die kersmarkte se stalletjies reeds toemaak. Dis net by die Glühwein stalletjies waar daar nog klompies mense is.
Vandag het ek klomp plekke om te besoek. Weimar is waar die Bauhaus styl begin het en drie geboue is deel van die Bauhaus Wêrelderfenisgebied (die ander is in Dessau) en dan is die “Klassieke Weimar” ook verklaar: dit sluit klomp parke, paleise en geboue in – onder andere Goethe, Schiller en Herder se huise. Interssant dat hulle in hulle in hulle leeftyd al bekend en vereer is – het nie baie gebeur met kunstenaars in diė tyd nie.

Friday 16 December 2011

Donderdag 15 Desember: in kort

Moet ver ry vandag – gee myself dus net ‘n paar uur in Regensburg. Reën saggies as ek my bagasie in die kar pak en stad toe stap. Die blik oor die Donau en die ou stadjie aan die ander kant is vanoggend net so mooi soos gisteraand. Stap rond waar ek gisteraand ook was, op elke mark is daar ‘n kersmark, maar die meeste is nog toe. Nou klipstraatjies, ‘n reuse Dom, geboue almal pastelkleure geverf – ‘n mooi stad, sal wil terugkom hierheen.
Elf uur terug by kar – en dan begin dit weer reën! Volgende stoppunt is Bamberg, op pad na Frankfurt. Die paaie is soos altyd ongelooflik besig. Rye en rye lorries, meer as die helfte van ander lande – besef dis hoe die vorige Oosbloklande hulle produkte kry. Maar daar is selfs heelwat lorries al die pad van Turkeye af. Mooi Beierse landskap: lae kronkelende heuwels, klein dorpies met ‘n prominente kerktoring,groen velde later meer bosse. Aanvanklik kort-kort oor die breë Donau, an later weer die Mmain. Draai dan af na Bamberg en besef ek gaan baie min tyd hê maar dan het ek dit darem gesien.
En Bamberg is dan een van die verrassings: mooi klein stadjieweerskante van die Ryn-Main-Donaukanaal en as jy dink dat die stad al in die elfde eeu gestig is, besef jy hoe oud moet die kanaal wees om skeepsvaart langs die drie groot Europese riviere moontlik te maak. Dorpie is op sewe heuwels begin omdat die keiser of heerser (ek is teen hierdie tyd heeltemal deurmekaar met wie keisers, konings, baronne, grawe, landgrawe, prinse, hertoë of wat ook al gehad het – en soms was dit net ‘n dorpie en die onmiddelike omgewing – elkeen het op sy eie mishoop regeer. G’n wonder Bismarck wou Duitsland verenig nie) ‘n stad wou begin wat net so belangrik as Rome vir die Katolieke was. Dit het toe nie gewerk nie en het nooit belangrik geword nie – en het daarom ook baie min skade in die oorlog opgedoen – gelukkig. Hierheen kom ek een dag terug.
Dan die terugtog na Frankfurt, reeë met rukke en die pad is ongelooflik besig, veral buite om Frankfurt in die donker en reën. Net na vyf is ek by Europcar, nêrens ‘n plek gesien om petrol in te gooi nie. Die vrou wat die kar wil terugneem, sê dan dis goed maar daar is ‘n “penalty” van 5 euro pper liter – R55 per liter! Vra hoe hulle dit kan doen as daar nie plek is om petrol in te gooi nie. O, daar is een by Terminaal 2, net moeilik om te kry. Ek vervies my, vat die sleutel terug en sê ek sal dit self gaan ingooi. Na ek drie keer deur Terminaal 2 en terug op die besige snelweg was, sien ek die garage op die ou end aan die oorkant van die snelweg lê. Alhoewel ek baie tyd gemors het, gee dit groot tevredenheid omdie kar dan vir haar terug te gee.
Herpak gou want ek moet moet voor 10 in Eisenach wees en nog ‘n treinkaartjie koop. Die volgende drie dae gaan so verloop: vanaand na Eisenach, môremiddag van daar na Weimar en dan Sondagoggend terug lughawe toe via Würzburg. In al die plekke is daar Wêrelderfenisgebiede. Kry kaartjies sonder problem en die trein is net na sewe daar – 10 minute laat ... en dit in Duitsland! Al die Duitse langafstandstreine is sulke spitsneus, vaartbelynde wit, ECI treine. Gaan na Dresden maar binne twee ure is ek in Eisenach.
Koud en donker – sien uit om môre in die lig te sien hoe dinge in die vorige Oos Duitsland verander het na die hereniging, Onthou in 1991 toe ek met ‘n kar van Nederland na Praag en Budapest gery het, die ongelooflike verskil as jy oor die vorige grens gery het: hoe donker en armoedig dit was in die vorige Oos Duitse dorpies.
Ek het nie ‘n idee waar die Jeugherherg is nie en moet dus ‘n taxi vat – wat ek nie sommer doen nie. Maar dis ook maar goed want dit is ‘n hele end, so half buite die dorp. As ek geweet het waar dit is, sou ek gestap het, al is dit ver. Op pad sien ek reeds Wartburg teen ‘n lae berg – dis hoekom ek hier is: die Wartburg kasteel. Bly dus nie ver daarvan af nie, so half in ‘n bos.
Donker by JHB, ouer gebou as gisteraand, maar netjies en skoon en ek hou meer daarvan. Besef dis ‘n ideale manier om goedkoop te reis in Europa in die winter wanneer daar nie hordes kinders en jongmense is wat my gaan irriteer nie. Kry my kamer (weer ‘n driebed een waarin ek alleen is) en kry vir my ‘n bottel wyn – en  werk nog vir so ‘n uur aan ‘n student se hoofstuk. Dan is ek net te moeg.

Wednesday 14 December 2011

8 Desember: Bad Homburg na Maulbronn: Deel 1

My hele reisplan het nou verander, maar gaan vandag naastenby ry soos ek beplan het.
My kar kan voor die hotel staan tot 9uur en werk tot dan. Ry eers ‘n draai om die Kur Park (Bad Homburg vor der Höhe (die regte naam) - blykbaar na Baden-Baden die tweede belangrikste in Duitsland - voor ek my GPS volg na Saalburg – die eerste stopplek vir die dag. GPS maak dit ongelooflik makliker om te reis en my plekke te soek.
Die hele dag vir my moeilik om vrede te maak met die idee dat ek moet konsentreer op die Wêrelderfenisgebiede en die res moet vergeet ... in elke dorp, elke paar kilometer is daar plekke wat ek wil besoek, elke klein stadjie lyk interessant. Wat besoek jy, en wat los jy uit? Ek bly dus maar by dieWêrelderfenisgebiede.
Saalburg is deel van die WHS “Frontiers of the Roman Empire”. Aanvanklik was dit net Hadrian’s Wall in Brittanje, maar toe het die Duitsers hulle “Limes” ook laat verklaar en dis nou deel van die “Roman Frontiers”. Bestaan uit oorblyfsels van die Romeise grens – vestingwerke, forte, ens.  Dit loop van die Ryn oor honderde kilometers tot by Regensburg.
26 (vat 'n ewigheid om fotos in te sit - sal dit later doen)
By Saalburg, in die bosse buite Bad Homburg, is ‘n ou fort weer opgerig en hoewel ek nie veel verwag het nie, was dit op die ou end vir my ‘n hoogtepunt, maak nie saak dat dit weer opgebou is nie, dit gee ‘n goeie indruk hoe so ‘n Romeinse fort hier in die bosse, duisende kilometers van Rome gelyk het. Loop later deur die bos tot waar die grens was – hier nog sigbaar as oorblyfsels van ‘n grondwal.

32
Ek gaan probeer om nog een of twee van die oorblyfsels te sien die volgende dag of twee.
Elf uur op pad, volgende besoekpunt is Messel Fossil Pit, naby Darmstadt. Terug om Frankfurt – paaie, snelweë is besig en dit bly die heel dag so – ongelooflik hoeveel verkeer daar is, baie groot lorries, maar mense bestuur ongelooflik bedagsaam. Hoor nooit toeters nie, as jy jou flikkerlig aansit, verminder die karre wat vinnig aankom dadelik spoed dat jy eers kan gaan. Ook opvllend is hoe bebou dit is, en hoe die stede vas aan mekaar gegroei het: Offenbach en Frankfurt lê teen nekaar langs die Mainz, maar ook ander kleiner dorpies.
Goed om een of twee kere op ‘n kleiner pad deur die bosse te beland – die pad is net ‘n oop streep  deur die bosse – of tussen kleiner dorpies. Elke dorpie sy kersmark en plekke waar kersbome verkoop word – op ‘n plein, of sommer op ‘n oop plek buite die dorp.
35
Hoor juis oor die radio dat daar vanjaar 450 miljoen euro se kersbome in Duitsland verkoop gaan word – maal dit met elf om Rand te kry! Orals kersbome en kersversierings.
 Messel Pit het ek geweet gaan een van die onindrukwekkende WHS wees. Party is interessant om te besoek, iets om te sien – by ander gaan dit oor iets wat jy nie noodwendig kan sien nie – bv. wat sien mens van die Vredefortkoepel. Hierdie plek is verklaar omdat daar gemyn is (hoe baie gebeur dit nie) en toe fossiele ontdek is. Hier was miljoene jare gelede ‘n vulkaan en in die gat het ‘n meer oorgebly – en die fossiele uniek uit Eocene tydperk – 50 miljoen jaar gelede - ‘n tyd wat blykbaar baie belangrik was vir die evolusie van soogdiere.
52
My GPS vat my verby Messel, ‘n klein dorpie maar ek sien dan dieMessel Pit logo (fossielskelet) en gaan kyk: ‘n klein museum, so ‘n regte dorpsmuseum maar dit is in die winter net naweke oop. Maar die afdraai het my kans gegee om die mooi Fachwerkhuise in die dorp te sien.
36
By die Messel Pit terrain is die museum is ook klein, maar modern en baie interessant gedoen. Die WHS is steeds langs ‘n oop myn. Stap daarna na ‘n uitkykpunt  oor die meertjie. Vandag nie meer water nie  - maar mens kan duidelik die gat sien.
61
Volgende stoppunt is Lorsch: weer verbaas om te sien hoe naby die plekke aan mekaar is, behoort oor minder as 30 minute daar te wees volgens GPS. Besef ek gaan maklik nog by Speyer ook uitkom. Vier Wêrelderfenisgebiede in een dag – net in Europa moontlik, en as ek later in Speyer is, sien eke k het net oor 200 km gery!

Woensdagaand, 14 Desember: Regensburg

Die skrywery is nie 'n sukses nie - ek is te moeg in die aand en dit vat te lank. Maar vanaand is ek in Regensburg, terug in Duitsland. Oostenryk is mooi maar om een of ander rede hou ek nie van die Oostenrykers nie. Dit is dadelik vir my vroliker hier - en baie belangrik: die Oostenrykers bestuur glad nie so bedagsaam as die Duitsers nie.

Toe ek so drie uur oor die grens gaan toe begin dit reën dit, en later sommer hard. Maar toe ek Regensburg inry, begin dit bedaar en toe ek my blyplek kry en bagasie afdra toe hou dit heeltemal op. Later toe ek sentrum toe stap, is dit 'n glad nie eers so koud nie.

Vyf uur was dit natuurlik pikdonker, maar wat 'n mooi stad - en wat 'n atmosfeer!
Vanaand is ek moeg gereis. Môre moet ek die kar terugvat Frankfurt Lughawe toe, maar daar is nog 'n paar plekke wat ek wil sien - sal met die trein verder reis tot Sondag.

Monday 12 December 2011

Maandagaaand 12 Sesember

Om een of ander rede het ek my misgis met die datum/tyd, gedink ek moet die kar Woensdag terug hê by die lughawe maar besef nou dat dat eers Donderdag is – en skielik het ek ‘n dag ekstra. Gaan dus my roete verander, nog ‘n dag hier spandeer en nog twee van Oostenryk se WHS te probeer sien voor ek terugry.
Die voormiddag in Graz rondgestap en baie daarvan gehou en toe gaan soek na die “Semmering Railway” – ‘n spoorlyn wat in die vorige eeu gebou is en so ‘n besondere ingenieurswerk hier in die berge was (word vandag nog gebruik) dat dit as WHS verklaar is. Kry iets daarvan (later meer daaroor). En dan in die donker ry ek in die rigting van die Neusiedlermeer – ‘n ander WHS, wat ek glad nie sou besoek het nie. Sien so half ses se kant ‘n hotelbordjie in die donker en besluit op die ingewing van die oomblik om sommer hier te stop – dan kan ek die laaste 10km môre ten minste in die lig ry. Die hotel en ‘n restaurant lê ‘n endjie van die naaste dorpie af – Donnerskirche! Wonder wat die storie is!

Sunday 11 December 2011

Moskou 26 November: Deel 2

Stap eers om die klooster om te sien hoe dit lyk van die meertjie aan die agterkant af.


Kom dan, half toevallig by Novodevichy begrafplaas uit – ook hierna het ek ‘n keer te lank gesoek omdat ek gedog het dit is verder weg - en eintlik teen die een muur van die klooster. Dis die begrafplaas waar die elite en belangrike mense begrawe is. Die probleem wat ek ook vantevore gehad het (behalwe die eerste keer toe 'n skrywer my gebring het) is hoe om by spesifieke grafte te kom. Daar is 'n plan maar die name is net in Russies en om 'n paar name tussen die honderde te vind, is onmoontlik. 'n Vrou kom na my met 'n boekie wat sy vir amper R100 verkoop, maar dis in kleur en met duidelike aanwysings en fotos van die belangrike grafte – baie van hulle is nie vir my belangrik nie, maar dan is daar tog Yeltsin en Kruschcev.

Ook Raisa Gorbachow.

 Verder is daar 'n paar skrywers en komponiste wat ek ken begrawe, soos Chekov.

Soms kan aflei waarvoor persoon bekend was aan dit wat op die grafsteen uitgebeeld word – vliegtuie, ruimtetuie – of ontwerpers, ingenieurs of dalk vlieëniers - musieknote - dalk komponiste of sangers wat nie ken nie.
'n Paar ander is net besonder, geen idee wie hulle was nie, mans of vrouens met babas, diere en ander dinge.

Dan terugsentrum toe, uit by Teatralna stasie waar daar uiteraard ‘n paar teaters is – onder andere die Bolshoi. Pas gerestoureer vir dermiljoene en al kan ek ook niks gaan kyk nie wil ek darem daar verbyloop. Die gebou lyk van buite maar soos van die ander nuut gerestoureerde huise van die vorige adellikes, maar binne ...!

Vooraf navraag gedoen maar Lyuba het laat weet alle kaartjies was uitverkoop. Die twee kere in die verlede wat ek wel iets bygewoon het, sal van die ervarings wees wat ek altyd sal onthou. Dit was wel 'n redelik onbekende opera en ballet, maar die interieur, en net die gevoel om daar te sit, was absoluut ongelooflik. Kan die keer onthou toe Felicitė en ek 'n uitstalling gedoen het en hier was (en sy so geraas het met twee Amerikaanse meisies wat gesit en gesels het tydens die vertoning) en toe ons uitgeloop het in die koue het jy aan die oorkant die helder rooi sterre op die Kremlin se mure gesien.

Loop terug, redelik besig op die sypaadjie.
 In ‘n stadium stap daar ‘n man by my verby en een kom tot langs my en die volgende oomblik val daar ‘n plastieksakkie by die man voor my – kan dadelik sien daar is geld in. Ek en die man langs my roep dadelik maar hy stap aan. Die een langs my tel op en loop en gee dit vir die een voor ons. Hy bedank vreeslik, ook vir my. Ek en die ander een loop aan en omdat hy gehoor het ek praat Engels vra hy waar ek vandaan kom. Hy is van Moldawië. Die volgende oomblik is die ander man weer by ons en vra of daar nie ‘n ander sakkie was nie - hy het twee sulke geldsakkies gehad. Ons sê nee, daar was net een. Stap weer aan en dan is hy skielik terug met ‘n polisieman. Diė vra ook oor die geld uit en vra na ons paspoorte. Sê myne is in die hotel (vergeet jy moet dit hier altyd by jou dra) maar as hy hoor ek praat Engels is hy half verskonend, praat self ‘n paar woorde Engels: O, is ek ‘n toeris? Hy sê dan hy is baie jammer, maar dis sy werk en hy moet uitvind vn die geld. Ek haal my beursie uit, het net roebels en euro, klaar dollers gewissel. Polisieman vra dan waar my dollers is en ek sê  ek het nie. Hy vra weer en vervies my - vra of hy in my sakke wil kyk. Nee dis goed, baie dankie en ek kan maar loop. Die hele tyd het die man wie se geld dit is, in Russies beduie, nee, dis nie ek nie, dis die ander een. Maar dan kan ons loop en skei ons paaie. Dis eers ‘n dag of twee later dat iemand praat van die oneerlike Moldawiërs (nie dat ek dit regtig glo nie, Angela het dit altyd van die Georgiërs ook gesê) dat ek begin wonder het of die man nie dalk die ander een gesakkerol het nie ... maar waarom die ander sakkie laat val. En dan weer, as ek terugdink was dit of die sakkie geld vorentoe geval (gegooi) is ...!
Hier in die sentrum is klomp eetplekke, wat ek weet duur is, maar ek gaan verstaan wat te eet is, en ek gaan by een in. So 'n vreemde ingang half agter ander geboue, nie baie mense 4uur die middag nie, maar die kos is op die ou end heerlik. Rooi borsch sop, wat ek altyd gedink het Russies is, maar Lyuba vertel later dat dit eintlik Ukraïenies is. En dan “barbeque lamb”, hoewel ek my al hoeveel keer voorgeneem het om nie skaapvleis oorsee te eet nie (behalwe in Argentinië). Dis egter ‘n verrassing en baie heerlik: stukkies ribbetjie maar aan ‘n sosatiestokkie gebraai, baie min been.
Dan metro toe en gaan neem eers fotos van die mooi Moskoumetrostasies. Ek sien hulle altyd maar het nog net een keer moeite gedoen om fotos te neem. Dis nogal moeilik omdat daar altyd strome mense is en min plek waar jy uit die pad van die mense kan staan en fotos neem en ook nie altyd mense kry voor dit wat jy wil afneem nie.  In ‘n ou gidsboekie kry ek ‘n lys van die die uitstaandes. Komsomolskaya: koepeldak met stroke marmer teen die mure en hoë kandellare maar spesiek indrukwekkend is die frescoes tussen die plafonkandellare – kommunistiese patriotiese uitbeeldings van die Russiese geskiedenis, Lenin in al sy glorie.
Ook Kieskaya, Novoslobodskaya (glaswerk) en nog na een of twee ander.
Dits werklik besonders: Stalin wat gese het dat dit so al lyk: kunsgallerye vir die proletariaat wat dit daagliks moet gebruik. Nie soos westerse gallerye wat net vir die elite is nie!