Wednesday 14 December 2011

8 Desember: Bad Homburg na Maulbronn: Deel 1

My hele reisplan het nou verander, maar gaan vandag naastenby ry soos ek beplan het.
My kar kan voor die hotel staan tot 9uur en werk tot dan. Ry eers ‘n draai om die Kur Park (Bad Homburg vor der Höhe (die regte naam) - blykbaar na Baden-Baden die tweede belangrikste in Duitsland - voor ek my GPS volg na Saalburg – die eerste stopplek vir die dag. GPS maak dit ongelooflik makliker om te reis en my plekke te soek.
Die hele dag vir my moeilik om vrede te maak met die idee dat ek moet konsentreer op die Wêrelderfenisgebiede en die res moet vergeet ... in elke dorp, elke paar kilometer is daar plekke wat ek wil besoek, elke klein stadjie lyk interessant. Wat besoek jy, en wat los jy uit? Ek bly dus maar by dieWêrelderfenisgebiede.
Saalburg is deel van die WHS “Frontiers of the Roman Empire”. Aanvanklik was dit net Hadrian’s Wall in Brittanje, maar toe het die Duitsers hulle “Limes” ook laat verklaar en dis nou deel van die “Roman Frontiers”. Bestaan uit oorblyfsels van die Romeise grens – vestingwerke, forte, ens.  Dit loop van die Ryn oor honderde kilometers tot by Regensburg.
26 (vat 'n ewigheid om fotos in te sit - sal dit later doen)
By Saalburg, in die bosse buite Bad Homburg, is ‘n ou fort weer opgerig en hoewel ek nie veel verwag het nie, was dit op die ou end vir my ‘n hoogtepunt, maak nie saak dat dit weer opgebou is nie, dit gee ‘n goeie indruk hoe so ‘n Romeinse fort hier in die bosse, duisende kilometers van Rome gelyk het. Loop later deur die bos tot waar die grens was – hier nog sigbaar as oorblyfsels van ‘n grondwal.

32
Ek gaan probeer om nog een of twee van die oorblyfsels te sien die volgende dag of twee.
Elf uur op pad, volgende besoekpunt is Messel Fossil Pit, naby Darmstadt. Terug om Frankfurt – paaie, snelweë is besig en dit bly die heel dag so – ongelooflik hoeveel verkeer daar is, baie groot lorries, maar mense bestuur ongelooflik bedagsaam. Hoor nooit toeters nie, as jy jou flikkerlig aansit, verminder die karre wat vinnig aankom dadelik spoed dat jy eers kan gaan. Ook opvllend is hoe bebou dit is, en hoe die stede vas aan mekaar gegroei het: Offenbach en Frankfurt lê teen nekaar langs die Mainz, maar ook ander kleiner dorpies.
Goed om een of twee kere op ‘n kleiner pad deur die bosse te beland – die pad is net ‘n oop streep  deur die bosse – of tussen kleiner dorpies. Elke dorpie sy kersmark en plekke waar kersbome verkoop word – op ‘n plein, of sommer op ‘n oop plek buite die dorp.
35
Hoor juis oor die radio dat daar vanjaar 450 miljoen euro se kersbome in Duitsland verkoop gaan word – maal dit met elf om Rand te kry! Orals kersbome en kersversierings.
 Messel Pit het ek geweet gaan een van die onindrukwekkende WHS wees. Party is interessant om te besoek, iets om te sien – by ander gaan dit oor iets wat jy nie noodwendig kan sien nie – bv. wat sien mens van die Vredefortkoepel. Hierdie plek is verklaar omdat daar gemyn is (hoe baie gebeur dit nie) en toe fossiele ontdek is. Hier was miljoene jare gelede ‘n vulkaan en in die gat het ‘n meer oorgebly – en die fossiele uniek uit Eocene tydperk – 50 miljoen jaar gelede - ‘n tyd wat blykbaar baie belangrik was vir die evolusie van soogdiere.
52
My GPS vat my verby Messel, ‘n klein dorpie maar ek sien dan dieMessel Pit logo (fossielskelet) en gaan kyk: ‘n klein museum, so ‘n regte dorpsmuseum maar dit is in die winter net naweke oop. Maar die afdraai het my kans gegee om die mooi Fachwerkhuise in die dorp te sien.
36
By die Messel Pit terrain is die museum is ook klein, maar modern en baie interessant gedoen. Die WHS is steeds langs ‘n oop myn. Stap daarna na ‘n uitkykpunt  oor die meertjie. Vandag nie meer water nie  - maar mens kan duidelik die gat sien.
61
Volgende stoppunt is Lorsch: weer verbaas om te sien hoe naby die plekke aan mekaar is, behoort oor minder as 30 minute daar te wees volgens GPS. Besef ek gaan maklik nog by Speyer ook uitkom. Vier Wêrelderfenisgebiede in een dag – net in Europa moontlik, en as ek later in Speyer is, sien eke k het net oor 200 km gery!

No comments:

Post a Comment